Ons was einde Februarie by Adam Tas se
vertoning by die Aasvoëlklub,
net so buite Bloemfontein. Ons was reg vir ʼn lekker kuier en hét lekker
gekuier. Hy het op die vertoning ʼn verhaal gedeel van waar hy die eendag saam
met ʼn boer op sy plaas gery het. Die boer gesels en vertel van die droogte en
dat dit tog net binnekort moet reën. Hy vertel waar hulle op sy trop koeie
afkom en waar hy net daar ʼn nuutgebore kalf se keel moes afsny. Ek het net daar
begin huil. Ek wou eers die bottel wyn voor my blameer, maar dié was nog vol
voor my. Ek het gehuil, want ek het net kort voor dit droogte met my eie oë
gesien, met my eie hart ervaar.
Ons het gedurende die Desembervakansie van
2015 besluit om die vlaktes in te vaar en my wêreld te gaan besoek. Die plek
wat na my in my slaap nader wink, die plek van my drome en die plek waar my
siel tot rus kom. Dit was my eerste besoek na, ek dink, sewe jaar? Elke
kilometer dieper in die Noord-Kaap raak net meer bruin en meer warm en so
hartseer. Ek kon wel plekke uitwys en vertel hoe ons; ekself, my susters en
nefies, krieket in die park naby hulle huis krieket gespeel het en opgewonde
agter die roomysman aangehardloop het. Ek kon vertel hoe ons met fietse soms
uit Kenhardt in die rigting van die Kokerboomwoud gery het, by die hotel se
swembad bedaar het. Die swembad staan seker nou leeg?
Tog het stil geword toe ek al die lammers
onder treurige bome sien lê, lammers wat heeldag in die kraal is sodat hulle onder
nette kan lê en ten minste voer kan kry. Velde is droog en die bossies is weg.
Nie droog of kaal nie, weg. Daar is twee beelde wat ek by my dra: die swart
songebrande aarde van Loskop en die stof warrelwinde wat so drie, drie oor die
aarde draai – die ware tekens van droogte.
En dan reën dit in die dorre Vrystaat en ek
wil soos ʼn kind buite baljaar. Ek wil kaalvoet in die plasse spring en sommer
begin dans. Ek gaan staan dan stil, met my gesig na bo gekeer en vra mooi vir ʼn
bietjie nattigheid op daardie swart harde aarde wat saans by my spook.
