Die begin van Paasfees begin môre, Goeie Vrydag. Ons herdenk
môre die kruisiging van Jesus Christus. Hierdie fees loop hand aan hand met die
Joodse Pessachfees. Dit maak my rustig om te weet, dat alhoewel die Joodse en Christen
geloof op so baie vlakke verskil, vier albei die volgende paar dae ’n fees van
bevryding – die Israeliete of dan nou Jode se bevryding uit die Egiptiese
slawerny, die Christene die kruisiging en opstanding van Jesus uit die dood. Hierdie
naweek is dus ’n naweek vir Geestelike rus en dan nou liggaamlike rus ook vir
die wat nie Saterdag werk nie.
My laaste Paaseier skattejag was nog in Kuruman gehou, by my
ouers. Ons was al groot…volwasse…wel, sommige mense sal dit sien as “te groot
vir sulke speletjies”. Ons almal was daar, tot die kêrels en my pa het die
Sondag vir ons paaseiers weggesteek en terwyl my ma die oggend in die kombuis
staan om ’n ete voor te berei, soek ons paaseiers. Ek onthou diant ons het so
gelag, want my pa het die eiers eintlik net op lukrake plekke neer gesit: op
die bank se rugkant, op die dvd-speler se laaitjie-ding, op die bokant van die
motor se band. En die beste van alles was dat mens dit nog steeds miskyk, want
jy soek mos diep. Ek sal dit graag vir ons seuntjie ook wil doen, maar ek dink
op die stadium sal ons hond die sjokolades voor hom kry en verorber.
Ons sal daarom die versteekte eiers ruil vir ’n salige
uitstappie in een van Bloemfontein se tuine. Die Universiteit van die Vrystaat
het die mooiste grasperke en fonteine waar mens eintlik rustig kan lê en
boeklees, maar ek sien die plek op ’n daaglikse basis en sal verkies om nie my
naweke ook hier deur te bring nie. Die ander opsies is die Botaniese tuine en Oliewenhuis.
Hierdie is wel nie die enigste plekke te sien in Bloemfontein nie, maar ek moet
darem ’n geleentheid kry om weer iets te kan skryf.
Ek was baie verras met Bloemfontein se Botaniese tuine. Jy
sal die tuine kry as jy met Rayton pad Johannesburg se rigting ry. Daar is
gelukkig aanwysingsborde, want ek kan jou moontlik laat verdwaal. Die tuin is
in ’n bos vallei geleë en deur heuwels omring. Hulle is toegewyd aan die kweek
en vertoning van die streek se flora. Die tuine is die eerste keer in 1969
oopgemaak en soos die res van die Vrystaat, is daar geskiedkundige elemente te
sien: die kurator se huis is deur die Tweede Wêreldoorlog Italiaanse
krygsgevangenes gebou; die
ou klip mure is gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog deur die Britse troepe
gebou ; en
prehistoriese pottebakkery oorblyfsels gevind in die omgewing is op die skou in
die Onderwys -sentrum. http://www.southafrica.net/za/en/articles/entry/article-southafrica.net-free-state-botanical-gardens
Die tuin is groot en nie so droog soos die res van Bloemfontein nie. Ek sal vir
ure in die tuin kan loop en die natuur net inneem.
Oliewenhuis het ook ’n groot grasperk beskikbaar en is
ideaal vir piekniek, nie so ideaal vir krieket speel nie. Oliewenhuis is een van
Bloemfontein se kunsmuseums en is in Henrystraat geleë (nr 16) daar is ’n restaurant
ook beskikbaar. Die tuin is beskikbaar tussen 08:00 en 17:00 en so lank jy nie
deel is van ’n groep van 20 mense nie, kan jy verniet op die skaduryke gras
gaan lê. Hier kan ek myself ook vir ure besig hou. Die algehele stilte van die
plek gee my vrede in my gemoed en krag om weer die dag aan te pak. Volgens die
webblad (http://www.nasmus.co.za/museum/satellite-museums/oliewenhuis-art-museum/introduction)
kan jy ook jou honde hierheen neem, maar moet nie ’n steurnis vir ander mense
wees nie.
Op die stadium word ons uithangplekke bepaal deur hoe hulle
voorsiening maak vir kinders. Ons gee daarom op die stadium voorkeur aan die
Spookhuijs, by Emoya Estate, maar dit is nie ’n rustige liggaamlike rustigheid wat
jou hier omhels nie, maar die wete dat jy jou kind kan dophou terwyl jy jou
koffie kan geniet.