Monday, May 5, 2014

Herfs



Ek geniet nogal hierdie tyd van die jaar in Bloemfontein. Dit is asof dit begin stil raak en die dorp begin gereed maak vir die winter. Alles is stadiger in die winter en deesdae met die Global Warming weet ek ook nie meer lekker wat om te verwag nie. Op die stadium sit ons die een dag by die verwarmer en môre by (iemand anders se huis) die swembad. Tog geniet ek dit steeds om soggens vroeg – dit is nadat ek dit uit die snoesige bed gesukkel het – op die pad te ry en te sien hoe die son maar ook nie wil opstaan nie en die blare so erg deur die nag van die koue skud dat al hulle blare op die grond lê. Die bruin-geel kleure van die dorp in die oranje lig is regtig iets om te aanskou – behalwe in jou eie tuin.

Ek kan nie wag vir die winter nie, want dit is die beste tyd vir ’n glasie Glüwein. Mens kry dit natuurlik deesdae in die drankwinkels te koop. Dan gooi jy die vloeistof net in ’n pan en verhit dit, maar ek geniet dit om die bestanddele self bymekaar te gooi (koop natuurlik die wyn):

Jy benodig 'n ¾ koppie water; ¾ koppie suiker; 1 kaneelstokkie; 1 lemoen; 10 heel naeltjies en een bottel rooiwyn. Meng die water, suiker en kaneelstokkie in ’n pan en bring dit tot kookpunt, verlaag die hitte en laat die mengsel prut. Sny die lemoen in die helfte, druk die sap in mengel uit. Druk die naeltjies aan die buite kant van die lemoenskil en plaas hierdie ook in die mengel. Prut vir ’n verdere 30minute tot die mengsel dik en stroopagtig is. Gooi die wyn hierby en verhit tot alles goed gemeng is, maar dit moet nie prut nie. Bedien warm.

Dit is jammer dat dit nie vandag so koud is nie, anders het ek nou ’n bottel wyn gaan koop.

No comments: