Tuesday, April 15, 2014

Welkom in die Vrystaat



Jy sal die Vrystaat in die hartjie van Suid-Afrika vind, waar Lesotho styf teen hom in ’n boontjie vorm lê. Die provinsie vind homself tussen die Vaalrivier aan die noorde en die Oranjerivier aan die suide. Die Vrystaat is bekend vir sy vlaktes, waar jy oor die graslande en mielievelde tot in jou toekoms kan uitstaar. Tog, aan die Noordooste van die provinsie begin die sandsteen berge uitstaan en jy wil jou verstom aan die skoonheid van die omgewing, slegs ’n paar kilometers weg van nêrens en niks.

Die provinsie is die graanskuur van Suid-Afrika en staan as gevolg van die landbou en die ryk goudvelde sentraal tot die ekonomie. In Mei 2011 het Manguang Suid-Afrika se nuutste metropool geword en beskik oor ’n gevestigde institusionele, opvoedkundige en administratiewe infrastruktuur. Die provinsie huisves die Appèlhof, die Universiteit van die Vrystaat en die Sentrale Universiteit van Tegnologie.

Die hoofstad van die Vrystaat is Bloemfontein. Die taalverspreiding is 64.2% Sotho, 12.7% Afrikaans, 7.5% Xhosa. Volgens die 2011 Sensusopname is daar 2 745 590 mense woonagtig in die provinsie, wat 5.3% van die land se bevolking uitmaak. Die totale oppervlak van die Vrystaat is 129 825 vierkant ’n meter, 10.6% van Suid-Afrika se oppervlakte en dus die derde grootste provinsie in die land.
http://www.southafrica.info/about/geography/free-state.htm#.U00KMKKqrRQ#ixzz2ywwipW5h

My eerste ervaring van die Vrystaat, wat ek regtig kan onthou, was in 2005. Ek het gedink dit was die lelikste plek wat ek nog ooit gesien het. Ek het groot geword in die Boesmanland en daarna Namakwaland en was vir ’n tydjie in Stellenbosch. Ek het die Wes-Kaap geken, asook die Suid-Kaap se woude en landskappe. Ek was al in Mpumalanga by Pelgrim’s Rest en Sabi Sabi, ek het God’s Window gesien, in die Tsitsikama woude gestap en kreef uitgehaal in die Weskus by McDonald’s baai. Waarom straf my ouers my so om my Bloemfontein toe te stuur om te gaan studeer?

Ek dink nou nog terug aan die roesbruin, amper rooi sand wat so oor die droë vlaktes gewaai het, ek met my ken op my knieë in my pa se groen Toyota Camry moes maar die trane wegsteek tot my pa my die volgende dag groet. Ek is net hier vir drie jaar tot ek my graad voltooi het. Ek gaan weer terug na die see, die berge en seker maar die wynlande. Waar trek ons nou? 15 April 2014 en ek is steeds hier. Ek het my hart hier verloor, nie net my lewensmaat hier ontmoet nie, maar oor die landskappe, die ooptes en dan so af en toe ry jy ’n entjie tot by die voet van die Maluti berge en ek voel my gemoed in die hemelruim opvaar, want die dag toe my pa my hier afgelaai het, het hy my eintlik huis toe gebring.

No comments: