Thursday, April 17, 2014

Paasfees in Bloemfontein



Die begin van Paasfees begin môre, Goeie Vrydag. Ons herdenk môre die kruisiging van Jesus Christus. Hierdie fees loop hand aan hand met die Joodse Pessachfees. Dit maak my rustig om te weet, dat alhoewel die Joodse en Christen geloof op so baie vlakke verskil, vier albei die volgende paar dae ’n fees van bevryding – die Israeliete of dan nou Jode se bevryding uit die Egiptiese slawerny, die Christene die kruisiging en opstanding van Jesus uit die dood. Hierdie naweek is dus ’n naweek vir Geestelike rus en dan nou liggaamlike rus ook vir die wat nie Saterdag werk nie.

My laaste Paaseier skattejag was nog in Kuruman gehou, by my ouers. Ons was al groot…volwasse…wel, sommige mense sal dit sien as “te groot vir sulke speletjies”. Ons almal was daar, tot die kêrels en my pa het die Sondag vir ons paaseiers weggesteek en terwyl my ma die oggend in die kombuis staan om ’n ete voor te berei, soek ons paaseiers. Ek onthou diant ons het so gelag, want my pa het die eiers eintlik net op lukrake plekke neer gesit: op die bank se rugkant, op die dvd-speler se laaitjie-ding, op die bokant van die motor se band. En die beste van alles was dat mens dit nog steeds miskyk, want jy soek mos diep. Ek sal dit graag vir ons seuntjie ook wil doen, maar ek dink op die stadium sal ons hond die sjokolades voor hom kry en verorber.

Ons sal daarom die versteekte eiers ruil vir ’n salige uitstappie in een van Bloemfontein se tuine. Die Universiteit van die Vrystaat het die mooiste grasperke en fonteine waar mens eintlik rustig kan lê en boeklees, maar ek sien die plek op ’n daaglikse basis en sal verkies om nie my naweke ook hier deur te bring nie. Die ander opsies is die Botaniese tuine en Oliewenhuis. Hierdie is wel nie die enigste plekke te sien in Bloemfontein nie, maar ek moet darem ’n geleentheid kry om weer iets te kan skryf.

Ek was baie verras met Bloemfontein se Botaniese tuine. Jy sal die tuine kry as jy met Rayton pad Johannesburg se rigting ry. Daar is gelukkig aanwysingsborde, want ek kan jou moontlik laat verdwaal. Die tuin is in ’n bos vallei geleë en deur heuwels omring. Hulle is toegewyd aan die kweek en vertoning van die streek se flora. Die tuine is die eerste keer in 1969 oopgemaak en soos die res van die Vrystaat, is daar geskiedkundige elemente te sien: die kurator se huis is deur die Tweede Wêreldoorlog Italiaanse krygsgevangenes gebou; die ou klip mure is gedurende die Suid-Afrikaanse Oorlog deur die Britse troepe gebou ; en prehistoriese pottebakkery oorblyfsels gevind in die omgewing is op die skou in die Onderwys -sentrum. http://www.southafrica.net/za/en/articles/entry/article-southafrica.net-free-state-botanical-gardens Die tuin is groot en nie so droog soos die res van Bloemfontein nie. Ek sal vir ure in die tuin kan loop en die natuur net inneem. 

Oliewenhuis het ook ’n groot grasperk beskikbaar en is ideaal vir piekniek, nie so ideaal vir krieket speel nie. Oliewenhuis is een van Bloemfontein se kunsmuseums en is in Henrystraat geleë (nr 16) daar is ’n restaurant ook beskikbaar. Die tuin is beskikbaar tussen 08:00 en 17:00 en so lank jy nie deel is van ’n groep van 20 mense nie, kan jy verniet op die skaduryke gras gaan lê. Hier kan ek myself ook vir ure besig hou. Die algehele stilte van die plek gee my vrede in my gemoed en krag om weer die dag aan te pak. Volgens die webblad (http://www.nasmus.co.za/museum/satellite-museums/oliewenhuis-art-museum/introduction) kan jy ook jou honde hierheen neem, maar moet nie ’n steurnis vir ander mense wees nie.

Op die stadium word ons uithangplekke bepaal deur hoe hulle voorsiening maak vir kinders. Ons gee daarom op die stadium voorkeur aan die Spookhuijs, by Emoya Estate, maar dit is nie ’n rustige liggaamlike rustigheid wat jou hier omhels nie, maar die wete dat jy jou kind kan dophou terwyl jy jou koffie kan geniet.

No comments: