Wednesday, April 16, 2014
Skenk bloed en red 'n lewe of drie
Ek is nie baie lief vir naalde nie. Ek verdra hulle, maar ek is nie mal daaroor nie. Tog kan een eenheid van jou bloed tot drie mense red. Met die Paasnaweek wat by ons voordeur staan, en daar weer oor die volgende twee weke baie mense op die pad gaan wees, wil ek graag vra: Gaan skenk bloed. Dit is nie asof ek ’n gereelde skenker is nie. Ek was 16 die eerste keer toe ek in die tou gestaan het. Min wetend dat my epilepsie diagnose veroorsaak dat dit nie vir my veilig is nie.
In 2010 het ek weer probeer aangesien ek 7 jaar aanvalloos is en ek reeds in 2005 opgehou om die medikasie te gebruik. Ek moes omtrent heel oggend met myself praat, want ek sien net hierdie naald so dik soos my arm voor my. Ons begin die oggend met ’n stewige ontbyt. Volgens die kriteria is ons albei gesond om te skenk: ons albei weeg meer as 50kg, is tussen die ouderdom van 16 en 65, en nie een van ons het ’n seksueel oordraagbare siekte nie.
Ons ry na die naaste kliniek wat op daardie stadium die een by Pick n Pay Hyper in Fichardpark was. Ek sê nie ’n woord nie. Wit soos ’n laken, maar ek gaan bloed skenk. Ek wil dit doen en dis goed want jy kan ’n lewe red. Ek vul die vorm in, gee my persoonlike inligting en antwoord al die vrae oor my gesondheid, asook seksuele en sosiale gedrag. Terwyl die verpleegster die vraelys mondelings met my deurgaan, word my bloeddruk, ystervlakke en hartklop getoets. Is my hart nog waar hy moet wees, want hy klop in my keel?
Ek slaag die toets, ek mag skenk. Hulle sê dit vat 30minute om te skenk. Ek dink ek het vir 10minute gesit. Ek was die heeltyd gespanne oor hierdie dik naald wat hulle in my arm gaan druk. Dit gaan seer wees, ek gaan huil. Hoekom doen ek dit? Ek wil nie meer nie! Maar ek sit en pomp die balletjie met my hand sodat die are kan uitstaan. Die verpleegster kom al hoe nader met die naald; eina, eina, eina.”Moet my asseblief nie seermaak nie” fluister ek sag. Naald is in en ek besef ewe skielik dat dit eintlik nie so erg was nie en ek begin ontspan. Blaai deur ’n paar tydskrifte en gesels met my man. Toe begin my ore suis en ek raak naar.
Ek moet sê, die personeel was baie vinnig om die naald uit my arm te kry, die stoel te tiep en die waaier op my te kry. Definitiewe punte vir hulle. Ek het met hierdie episode seker nie drie mense gered nie, maar hopelik ’n pasgebore baba. Ek vertel wel met trots dat ek wel daar was en alhoewel ek nie ’n suksesvolle 30min se skenking kon gee nie, was ek wel daar.
Daar is verskeie plekke in die land en dus die Vrystaat waar jy kan gaan bloedskenk. Daar is ’n baie hulpvaardige kaart op hulle webblad beskikbaar wat sommer aanwysings verskaf: http://www.sanbs.org.za/index.php/where-can-i-donate.
Daar is ook mobiele eenhede beskikbaar, maar my ervaring het hier gewys dat jy aansienlik meer geduld moet hê aangesien hulle nie noodwendig genoeg personeel beskikbaar het nie.
Vir meer inligting besoek die SANBS se webblad: http://www.sanbs.org.za of hulle Facebookblad: https://www.facebook.com/SANBS
Ek gaan die week weer skenk.
Subscribe to:
Post Comments (Atom)
No comments:
Post a Comment